Volgens die Cape Coloured Congress (CCC) se raadslid, Anastatia Davids, ondersteun die begroting die ou orde.
“Daar is geen sprake van sosiale ontwikkeling nie. Geen sprake van dwelmvoorkoming of rehabilitasie wat ons gemeenskappe nodig het nie. Geen planne om bendegeweld hok te slaan nie. Dis ’n begroting om te verseker dat niks verander nie,” sê sy. Sy glo die begroting sal verseker dat die voorheen bevoordeeldes “aanhou om gesteelde voorreg te geniet”. Haar party se standpunt is dat die aanslag en riool-heffing met onmiddellike effek geskrap moet word en dat hulpbehoewende hulp uitgebrei moet word sodat meer arm mense kwalifiseer. “Wat behuising betref, behoort die Stad sy eie behuisingslys gebruik te word wanneer titelaktes toegeken word. Tans is die meeste begunstigdes mense van elders,” het Davids gesê.
“Hill-Lewis beweer dat die Stad Kaapstad inwoners beskerm deur Eskom se elektrisiteitsprysverhoging van 18,49% tot 17,6% te verminder. Maar die waarheid is, as hierdie leierskap ernstig is om sy behoeftige inwoners te help, kan hulle van die openbare geld wat in die bank sit, gebruik om mense ‘n blaaskans te gee.” Dit was die sentimente van Anton Louw, die GOOD-party se raadslid verantwoordelik vir Finansies in die Stad Kaapstad. Hy sê dat inwoners van Kaapstad reeds uitermate hoë pryse op elektrisiteit
betaal het. Die Stad betaal gemiddeld 170 c/kwh, terwyl hulle dit vir tot 433 c/kwh aan die verbruiker verkoop. Daar is dus genoeg ruimte om die nuwe Eskom-tarief te absorbeer. “Met betrekking tot die sogenaamde Lifeline-tariefdrempel wat tot R500 000 verhoog word, is dit ongelukkig grootliks betekenisloos, omdat daar baie min residensiële eiendomme met ‘n markwaarde van R500 000 of minder is.” Louw meen die kontantsurplusse wat opgeloop het en die miljarde in die Stad se bankrekening, kan die DA-regering heelwat meer van die Eskom-tariefverhoging absorbeer. Dit is openbare geld en dit moet gebruik word om die inwoners van Kaapstad wat reeds swaar belas is, by te staan,” het Louw gesê.