DEUR MARYKE MAARMAN
Vroeër vandeesmaand, het Pastore Michael en Sabrina van die Atlantis Beaconhill kerk, seniors van Atlantis, Mamre, Pella en Witsand behoorlik trakteer met hul jaarlikse seniors ete.
Hierdie “jaarlikse bederfie” het nou sy tiende bestaansjaar behaal. Die middagete het bestaan uit `n drie-gang maaltyd, waarna die seniors hulself vermaak het met karaoke en dans. “Ek kan met trots sê dat hierdie geleentheid sonder enige borge plaasvind”, het Pastoor Sabrina gesê. Dit was Roy Tilling (60) se eerste keer hierdie jaar. “Dankie vir Pastore Mike en Sabrina. Dis alleenlik deur God se genade dat ek nog hier kon wees om dit by te woon”, het hy gesê. Die kerk nooi alle seniors, 60 jaar en ouer, om in 2017 by hulle aan te sluit. Die bejaardes kom elke Woensdag bymekaar, waar hul verskeie aktiwiteite en uitstappies saam geniet.