Atlantis Rugby Klub het aan die einde van Oktober vanjaar hul sport-jaar afgesluit en erkenning gegee aan spelers en bestuurslede wat die klub aan die gang hou tydens die huidige COVID -19 pandemie.
Weens die pandemie was rugby in sy geheel beїnvloed en vir byna twee jaar was geen rugby toegelaat nie. Die bestuur van die klub het aan die einde gekom van hul twee-jaar termyn, en het besluit om wel erkenning te gee aan diegene wat saam die wa deur die drif getrek het, asook diegene wie aanhou om die bestuur by te staan. As `n blyk van hul waardering het ʼn diploma-seremonie gereël. Gurshwin Williams, die span se wedstrydsekretaris, sê die bestuur en afrigters werk agter die skerms vir `n goeie jaar van rugby in 2022. “Met selfvertroue gaan ons ʼn goeie rugby-seisoen beleef en goeie werk terugploeg in beide ons spelers en die gemeenskap,” het Williams bygevoeg.