Die Central Pigeon Club was sowat drie jaar gelede gestig en bestaan huidiglik uit lede van Atlantis en Pella. Jeromeo Apollis, ‘n lid van die klub en `n kranige duiwe-boer wil alle belangstellendes, maar veral kinders, aanmoedig om deel te hê aan hierdie alternatiewe sport.
Sy doel is om jong mense bewus te maak dat daar iets beter is as die negatiewe aktiwiteite waarin baie dikwels vasgevang word. “Wedvlugseisoen begin normaalweg vroeg in Junie en eindig teen middel Oktober oor ‘n tydperk van sowat 20 weke. Duiwe vlieg van so min is paar honderd meter tot soveel as 1100 kilometer. Die duiwe word elke week ingekorf en Saterdae losgelaat, wanneer die lid met die beste tyd die wedvlug wen,” verduidelik Apollis. Hierdie jaar was hy die klub kampioen vir die 2021 seisoen 2021, tweede in die unien sewende in Swartland kombineer. Hierdie kompetisies kan lede van enige ouderdomme hê. Lede onder 18 jaar oud val onder die juniors en ouer lede val onder seniors. “Elke lid moet sy eie duiwe besit om deel te neem of hulle kan in vernootskap vlieg. Duiwe word bekom op verskillende maniere soos veilings, of huidige lede skenk partykeer duiwe aan nuwe lede.” Die duiwe moet goeie kwaliteit wedvlug-duiwe wees sodat hulle die kompetisies kan wen. Daar word normaalweg beker-uitdelings gehou en elkeen wie wedvlugte wen word vereer met ‘n trofee. Seniors se kompetisies is op ‘n hoër vlak, soos veiling-wedvlugte waar daar groot geld betrokke is, partykeer selfs ‘n motor.Apollis is bereid om te help waar hy kan. “Ek sal eerste in die ry staan om jongmense te leer oor die sport. Ek help tans ‘n paar senior duiweboere in verskillende dorpe. Ek sal graag met die bou van hokke ook help,” sê hy. Juniors word kwytgeskeld van ledegeld en slegs senior lede betaal. Volgens Apollis is dit ‘n sport wat net ‘n kalmte bring in mense se gees en gemoed. Dit is ook ‘n familie sport en bou familie bande terwyl daar gewag word vir duiwe om terug te keer vanaf wedvlugte. Meisies word ook aangemoedig om ook deel te wees van van die duiwe wedvlugte. “Daar is nie baie dames in die sport nie maar tog is daar ‘n paar top vroulike vlieërs.” Belangstellendes kan hom op 073 290 6503 kontak.