Op Saterdag 17 Januarie het ’n veldbrand aan die buitewyke tussen Atlantis en Pella uitgebreek. Die brand het groot kommer onder inwoners van beide gemeenskappe veroorsaak, maar is danksy die vinnige optrede van plaaslike brandbestryders onder beheer gebring.
Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder vir die Stad Kaapstad se Brandweerdiens, is ’n veldbrand op 17 Januarie 2026 omstreeks 13:00 aangemeld naby Lucasstraat in Beacon Hill, Atlantis. Verskeie brandbestrydingspanne van verskillende brandstasies, insluitend Epping, Atlantis, Brooklyn en Belhar, was op die toneel. Brandbestryders van CapeNature en NCC Environmental Services het ook gehelp om die verspreiding van die brand te beperk, terwyl twee helikopters en ’n vastevlerkvliegtuig lugondersteuning gebied het deur waterbomaanvalle uit te voer.
Van die spanne was besig om eiendom in Woodpeckerstraat te beskerm, aangesien die brand deur sterk suidoostelike winde aangeblaas is en in die rigting van Pella beweeg het. Volgens Carelse is die brand omstreeks 23:00 op 17 Januarie onder beheer gebring, maar eers volledig geblus om middernag op 19 Januarie 2026, aangesien brandbestryders voortdurend moes omgaan met heropvlammings en warm kolle (hotspots).
“Geen persone is tydens die voorval beseer nie en die oorsaak van die brand is tans onbekend,” het hy gesê. Die voorval kom te midde van ’n intense veldbrandseisoen in die Wes-Kaap insluitende areas Stanford, Mosselbaai, Franschhoek en Stellenbosch.
Die Wes-Kaapse regering het die publiek dringend versoek om uiters waaksaam te wees gedurende hierdie hoërisiko-tydperk. Hulle het ook ’n beroep op inwoners gedoen om brandgevare op hul eiendomme te verminder deur droë plantegroei en rommel te verwyder, en om enige rook of vlamme onmiddellik aan te meld.






