Klasmaats, onderwysers en die breër gemeenskap is steeds diep geskok nadat ’n jong dogtertjie verlede week skaars ’n kilometer weg van haar kleuterskool deur ’n motor omgestamp is.
Die vyfjarige Lemicah Galant was woonagtig in Lisboa Street, minder as 300m weg van waar die ongeluk plaasgevind het. Die tragiese voorval het op Dinsdag 17 Februarie 2026 om 07:50 in Hermeslaan, reg oorkant Saxonsea Sekondêre Skool, plaasgevind. Polisiebeamptes het op die toneel gereageer, en by hul aankoms het hulle ’n voertuig langs die pad aangetref, terwyl ’n kind op die pad gelê het. Mediese personeel kon ongelukkig niks meer vir haar doen nie. Volgens die polisie is die bestuurder van die voertuig, ’n 34-jarige man, Diego Stevens, op die toneel in hegtenis geneem, op `n aanklag van strafbare manslag. Die betrokke voertuig, ’n groen Opel Monza, is as bewysstuk in beslag geneem.
Die gemeenskap het ’n dringende beroep op hof-owerhede en regsbeamptes gedoen om die erns van hierdie saak noukeurig te oorweeg en om borgtog aan die beweerde oortreder te weier, in die belang van geregtigheid en gemeenskapsveiligheid. Die familie het gevra dat die gemeenskap in hierdie moelike tyd saam met hulle staan deur die petisie te onderteken, op die webwerf https://www.change.org. Die hofverskyning is geskeduleer vir Dinsdag 24 Februarie 2026.
Dosyne Facebook-gebruikers het hulle meegevoel teenoor die familie betuig. “Dis roekeloosheid wat onskuldige lewens eis. Die manier waarop daardie man gery het tydens die oggend se spitsverkeer was heeltemal onnodig,” het een ouer gesê, terwyl `n ander gesê het sy sien gereeld hoe baie bestuurders nie eens meer stop by die voetoorgange nie. Nog ’n persoon het ’n versoek gerig aan die ouers van die kinders wat uit Uitbreiding 12 kom. “Elke oggend oppad Mamre toe sien ek hoe meeste kinders nie die voetgoorgang gebruik om die pad oor te steek nie, maar sommer by die oop gedeelte in die heining. Praat asseblief met hulle oor padveiligheid. Baie kleiner kinders én hoërskoolkinders loop of hardloop oor die pad, selfs wanneer ’n bus of vragmotor baie naby is.”
Volgens die skoolhoof by Saxonsea Pre-primêre Skool, Belinda Jooste, was die hele skool geruk deur die ontydige nuus. “Lemichah was ’n lewenslustige kind en was baie lief vir drukkies uitdeel. Sy was ook baie skrander en het baie kere sommer haar klasmaatjies se werk help doen,” vertel sy. Jooste het haar opregte dank aan verskeie senior amptenare van die Wes-Kaapse Departement van Onderwys uitgespreek vir hulle ondersteuning aan die familie en die skool.
**Enigiemand wat inligting het, kan dit vertroulik deel by 08600 10111 of 021-5718500 skakel en vra vir Speursergant Allo Hendricks.






