HomeCommunityTweeling-broers gradueer saam ten spyte van struikelblokke

Tweeling-broers gradueer saam ten spyte van struikelblokke

-

Jou agtergrond bepaal nie jou toekoms nie. Dit is die sienswyse van tweelingbroers Divano en Diego Blankenberg. Albei het in Atlantis se berugte Dura-woonstelle grootgeword, waar armoede, bendes en misdaad nog maar altyd die orde van die dag was.

Maar dis presies hierdie omstandighede wat hulle gedryf het na sukses. Die twee jongmanne gee hulle ouers al die eer vir hulle prestasies, veral hulle ma, Audrey, wie hulle alleen grootgemaak het nadat hulle pa oorlede is, “Om in ‘n gebied groot te word wat erg onder bendes en misdaad gebuk gaan, het hoër onderwys dikwels buite bereik laat voel. Ondanks die uitdagings het ons egter gefokus gebly op ons droom om by die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer,” sê Diego. Om die eerste in hulle familie te wees wat aan die US studeer, het sy eie verantwoordelikheidsgevoel en uitdagings meegebring, maar dit het hulle beslis gemotiveer, stem die broers saam. Die Blankenberg-tweeling se reis saam met die Universiteit het reeds op hoërskool begin – en laat verlede maand het hulle saam van dieselfde fakulteit gegradueer. Hulle was van graad sewe tot graad tien deel van die Universiteit se Sentrum vir Pedagogie (SUNCEP) se program, en in hulle laaste twee jaar op hoërskool het hulle ook aan die universiteit se talentontwikkelingsprogram deelgeneem. Albei het onderskeidings in hulle finale matriekeksamen behaal.

Die twee is as identiese tweeling baie geheg aan mekaar. “Vir die eerste 15 jaar van ons lewe was ons ons ma se enigste kinders, wat ons band versterk het. Ons het alles gedeel, soms selfs ‘n enkele lekker. Ons ma het ons altyd geleer om na mekaar om te sien, en daardie ingesteldheid het ons altyd bygebly,” vertel die twee. Hulle sukses was beslis nie sonder uitdagings nie. Die tweeling was net ses jaar oud toe hulle pa aan lewerversaking oorlede is, en in hulle derde jaar op universiteit is hulle ma met kanker gediagnoseer.

“Dít het ons diep geraak. Deur die Here se genade het sy dit oorkom, wat ons gradeplegtigheid selfs nog meer betekenisvol gemaak het,” sê Divano. Albei broers het gedurende hulle studiejare van studierigting verander. Divano het aanvanklik elektriese ingenieurswese gestudeer voordat hy in sy tweede jaar na meganiese ingenieurswese oorgeskakel het. “Ek het besef hoeveel ek die praktiese aspekte, probleemoplossing en ontwerp geniet. Ek is glad nie spyt nie, dit was die regte besluit.” Op sy beurt het Diego van chemiese ingenieurswese na megatroniese ingenieurswese oorgeskakel. “Namate ek meer oor die verskillende ingenieursrigtings geleer het, het ek gefassineer geraak deur megatronika, veral gebiede wat oor hommeltuie en geïntegreerde stelsels handel.”

Om universiteit saam te kan ervaar, het hulle deur moeilike tye gehelp. “Om altyd iemand te hê om op te steun, was ‘n groot pluspunt. Ons het mekaar gedruk om ons beste te lewer sonder om teen mekaar te kompeteer. Wanneer die akademiese las of persoonlike uitdagings swaar gevoel het, kon ons mekaar ondersteun. Om saam te studeer het die hele ervaring minder oorweldigend en baie meer betekenisvol gemaak,” vertel die twee broers met trots. “Ons ma se opofferings, krag en geloof in die Here het ons gelei. Sy het ons deursettingsvermoë, harde werk en veerkragtigheid geleer – waardes wat ons deur ons studies gedra het,” sê Divano.

Related articles

spot_img

Featured