HomeEducationZane maak naam vir Proteus op nasionale vlak

Zane maak naam vir Proteus op nasionale vlak

-

Proteus Tegniese Hoërskool is behoorlik opgewonde nadat een van sy leerders weer onlangs op die nasionale podium geëindig het. Zane Blaauw, ‘n Graad 11-leerder het die skool sowel as die Wes-Kaap verteenwoordig by die jaarlikse Nasionale Vaardigheidskompetisie in Johannesburg, waar die beste tegniese leerders van al nege provinsies meeding.

Zane het ‘n indrukwekkende algehele derde plek in Suid-Afrika in die Automotive-Motorwerktuigkunde-kategorie behaal. Sy droom is om ‘n dieselwerktuigkundige te word, en hierdie nasionale erkenning bring hom een tree nader aan daardie droom. Hy sê dat moeilikste deel van die kompetisie was die emosionele sowel as die tegniese druk was. “Emosioneel om myself
te motiveer om positief te bly, en prakties om die wielbelyning (wheel alignment) te doen. Die wielbelyning is een van die mees presiese en moeilikste take in motorwerktuigkunde, en dit is op nasionale vlak getoets,” voeg Zane by. Hy het beslis nie alleen so vêr gekom nie, maar hy bedank sy vriende en onderwysers wat hom gehelp het met die voorbereiding vir die kompetisie. Sy onderwyser, mnr. Evertson, sê die hele skool is trots op hom. “Die skool is baie opgewonde oor hom, want hy het die derde plek in die land behaal vir Automotive. Dit is maar skaars dat dit gebeur in hierdie studierigting. Ter voorbereiding vir die kompetisie, doen ons praktiese take wat hom natuurlik baie gehelp het in die kompetisie,” voeg Evertson by.

Daardie praktiese lesse in die Proteus-werkswinkel het vir hom die praktiese ervaring gegee wat hy nodig gehad het om teen die bestes in die land mee te ding. Zane se oë is reeds op die toekoms, met die droom om eendag by Volkswagen te werk. Sy sukses bou voort op ‘n trotse Proteus-tradisie. In 2024 het twee Proteus-leerders die nasionale afdeling vir Ingenieursgrafika en -ontwerp gewen en Suid-Afrika in Denemarke verteenwoordig. Nou het Zane Automotive by daardie nalatenskap gevoeg.

Related articles

spot_img

Featured