HomeCommunitySes laerskole pak mekaar in rugby-toernooi

Ses laerskole pak mekaar in rugby-toernooi

-

Die Mamre rugbyveld het op Saterdag 20 September oorgeloop van energie tydens die Atlantis Laerskole-rugbytoernooi.

Ses plaaslike laerskole het mekaar die stryd aangesê in ’n dag gevul met sportmanskap en spanpogings uit die boonste rakke. Die toernooi het van vroegdag af ’n fees-atmosfeer geskep met trotse ouers en opgewonde spelers. Saxonsea het sterk vertonings gelewer en in al drie eindstryde geseëvier, naamlik 20–10 teen Mamre in die o.9’s, 12–5 teen Pella in die o.11’s, en ’n oortuigende 40–0 teen Hermes in die o.13’s. Hulle is uiteindelik as die algehele wenners van die dag gekroon.

Een van die organiseerders, Kurt Julies, het ná afloop van die dag vertel dat die toernooi ’n groot sukses was en dat hul mikpunt is om geleenthede te skep vir kinders om hul talente bloot te stel en verder te ontwikkel. “Ons wil graag hê dat meer seuns van ’n jong ouderdom af begin rugby speel,” het hy gesê. Die skoolhoof van Mamre Primêr, Ruben Abels, het beklemtoon dat sy span goed gevaar het en dat die dag goed afgeloop het. Hy meen dis belangrik om jonger spelers, soos die onder-sewes, in die toekoms te betrek. Sergio Arends, stigter van Rugby Rise, glo die talent in Mamre en Atlantis is volop. Hy het bygevoeg dat die program net ’n bietjie meer aandag moet kry. Oor Hermes Primêr se vertoning het ’n verteenwoordiger gesê: “Ons hoogtepunt was om die finaal te bereik. Al het die uitslag nie ons kant toe geval nie, beskou ons dit steeds as ’n suksesvolle seisoen waarop ons kan voortbou.”

Selfs die jong spelers was vol gees. Raymond Ford, ’n onder 13-speler van Mamre Primêr, het gesê hy het dit baie geniet om saam met sy span te speel. Die dag het beslis nie net oor wen en verloor gegaan nie, maar dit was ’n viering van gemeenskap, talent en jeug. Die jong spelers het die veld met trots verlaat en beslis goeie herinneringe geskep.

Related articles

spot_img

Featured