Met verskeie plakkate waarop slagspreuke soos “pensionarisse verdien beter”, “billike pensioene, ’n waardige lewe” en “ons waardigheid is nie onderhandelbaar nie” verskyn het, het dosyne pensionarisse onlangs buite SASSA se kantore in Sherwood Park, Atlantis, byeengekom. Die protesoptrede op Maandag 7 September was deel van ’n vreedsame landwye veldtog onder leiding van Pensioners of South Africa (POSA), ’n beweging wat vroeër vanjaar deur welbekende sjef JC Alex en sy vrou, Calveen Edwards, gestig. Hulle doel is ’n meer waardige en toeganklike maatskaplike sekerheidstelsel vir Suid-Afrika se bejaardes.
POSA is gestig nadat Alex en Edwards gesien het met watter uitdagings bejaarde lede van hul eie families te kampe het. Die beweging eis dat die ouderdomstoelae van R2 400 tot R5 000 per maand verhoog word en dat ouer persone beter by staatskantore behandel word. Alex het gesê die verhoging waarna POSA vra, is volgens die beweging nodig en nie ’n onredelike eis nie. “Ons senior burgers het Suid-Afrika help bou, maar vandag beleef hulle ’n menseregtekrisis en voel hulle heeltemal deur die regering vergeet. Die huidige maandelikse toelae is hopeloos te min,” het hy gesê. Volgens Alex word ’n groot deel van pensionarisse se toelaes deur die stygende koste van basiese lewensbehoeftes, soos kos, elektrisiteit en medikasie, opgeëis. Baie pensionarisse ondersteun ook werklose kinders en kleinkinders. “Hulle is die werklike sosiale veiligheidsnet van hierdie land, en hierdie bedrag is die absolute minimum wat nodig is vir ’n mens om fisies te oorleef met basiese waardigheid,” het hy gesê. Alex het gesê pensionarisse in Atlantis ervaar ook die uitwerking van die gebied se geskiedenis van ruimtelike segregasie, met openbare vervoer wat duur en beperk is. Selfs ’n besoek aan SASSA om ’n probleem met ’n rekening of toelae uit te klaar, kan ’n finansiële las wees. “Hoë jeugwerkloosheid in die gebied beteken dat ’n oorweldigende meerderheid van Atlantis se oumas hul persoonlike toelaes gebruik om hele huishoudings te onderhou,” het Alex gesê.
Hy het verder sy kommer uitgespreek oor wat hy as sistemiese probleme binne die SASSA-stelsel beskryf, veral wanneer finansiële transaksies van familielede glo daartoe kan lei dat pensionarisse se toelaes bevraagteken of opgeskort word. “Ons ontbloot tans ’n stelsel van digitale apartheid waar die stelsel gesinsoorlewing aktief kriminaliseer,” het hy gesê. Alex verduidelik dat selfs klein bedrae wat familielede aan bejaarde ouers stuur om met basiese benodigdhede te help, as alternatiewe inkomste beskou kan word en tot probleme met hul toelaes kan lei. Hy het ook gewys op stelselprobleme en lang toue by SASSA-kantore. David Willemse (op foto bo) is die plaaslike organiseerder vir POSA. Hy stem saam dat te veel pensionarisse in Atlantis gedwing word om reeds in die vroeë oggendure by SASSA in die tou te staan voordat die stelsels moontlik vanlyn gaan. “Dit is ’n kwessie van waardigheid en, in sommige gevalle, letterlik van lewe en dood,” het hy gesê. POSA doen ’n beroep op gemeenskappe, plaaslike ondernemings en jong mense om ouer persone tydens sulke optrede te ondersteun, en hulle by te staan wanneer hulle probleme met administratiewe prosesse ondervind.






