HomeCommunityKerk se vroue vier Vroue- maand in gemeenskapen gees

Kerk se vroue vier Vroue- maand in gemeenskapen gees

-

Op Woensdag 7 Augustus 2025 het talle vroue van die God’s Faith Mission Church in Protea Park, Atlantis, bymekaar gekom vir ’n spesiale geleentheid met die tema “Dress Like a Queen.” Die inisiatief is gelei deur die kerk se moederleier, Cathleen Gertse.

Die afgelope paar weke het sy elke Sondag vroue by die kerk spesiaal vereer, met ’n kroon, ’n ere-lint en `n geskenkie om hulle spesiaal en gewaardeer te laat voel. “Ek wil hê vroue moet trots wees op wie hulle is. By die huis, by die werk, of selfs in die kerk, dra ons dikwels maskers om ons rolle te vervul of sekere status te handhaaf. Maar vanaand moedig ons vroue aan om die maskers af te haal, hulself te wees en die koningin binne-in hulle te omhels,” het Gertse by die geleentheid gesê. ’n Lang tafel was gedek, aandete bedien, en so tussendeur die lag en gesels het daar ’n spontane koor van liedere en koortjies uitgebreek. Gertse het gestraal terwyl sy oor alles gesels het. Sy is dankbaar vir die span vroue wat altyd gewillig is om haar te help om oomblikke soos hierdie ’n sukses te maak. Haar inspirasie spruit uit haar eie ervarings as jong vrou. Sy onthou hoe sy een jaar, op Moedersdag, ’n geskenk van pastoors-vrou, juffrou Rachel Adams ontvang het. “Daardie oomblik het my diep geraak. Dit het my geleer hoe belangrik dit is om mense spesiaal te laat voel, ongeag hul omstandighede. Nou gee ek dit terug aan ons gemeente, net soos diegene wat ons vooruitgegaan het, ons geleer het.”

Kerse is ook aangesteek ter herinnering aan die kerk se twee leiers, Rachel Adams en Sarah Johnson, wie albei vroeër vanjaar oorlede is, twee maande na mekaar. Die inisiatief beklemtoon ook respek vir herkoms en nalatenskap. Die “Goue Oues” van die kerk was eerste om vereer te word vir hul onbaatsugtige rol as pilare van geloof en inspirasie oor die dekades heen. Dit sluit in die 95-jarige Clary Sauls, Sophy Jacobs, en Frieda Matthews. “Dit is belangrik om dié te eer wat die grondslag gelê het,” het Gertse gesê. Deur haar toewyding skep sy ’n kettingreaksie van bemagtiging, eenheid en erkenning. Die geleentheid het gewys dat ware leierskap en koningskap nie van titels kom nie, maar van mededeelsaamheid, gewilligheid en die opheffing van ander.

Related articles

spot_img

Featured