HomeCommunitySaxonsea Hoër se o.14 meisies in SA se Top 10

Saxonsea Hoër se o.14 meisies in SA se Top 10

-

Saxonsea Hoërskool se onder 14-netbalspan het ’n merkwaardige prestasie behaal deur 10de plek uit 150 spanne landswyd te behaal by die onlangse Nasionale Skole-Netbalkampioenskap.

Afrigter Rhodepher Davids sê sy is verskriklik trots. “Dis ’n groot prestasie vir ons skool en gemeenskap. Ons kinders kom uit moeilike omstandighede, maar hulle het gewys dat harde werk en toewyding groot dinge kan bereik.” Die span het teen van die land se top skole gespeel en sterk gestaan in moeilike wedstryde. ’n Groot uitdaging was fondsinsameling en borgskappe om aan die toernooi te kon deelneem. Die meisies het selfs op ’n sementblad geoefen, dikwels in wind en reën, maar het nooit moed opgegee nie. Volgens Davids is dit die spelers se uithouvermoë en potensiaal wat hulle besonders maak. Sy beklemtoon dat spanwerk, respek en liefde vir mekaar die kern van hul sukses was. Ouers en ondersteuners het ook ’n groot rol gespeel, van hulp met voorbereidings tot konstante aanmoediging tydens die toernooi.

Die afrigter glo hierdie prestasie is net die begin. “Ons beplan reeds vir volgende jaar. Ons wil nóg beter vaar en Saxonsea se naam hoog hou. Ek is ongelooflik trots – alle eer aan God wat ons so ver gebring het.”
Die meisies se prestasie het nie net hul eie span se naam groot gemaak nie, maar ook ander netbalgroepe in die skool geïnspireer om harder te werk en groot te droom.

Related articles

spot_img

Featured