HomeSportGees en tekkies: Joshua se pad na landloop-glorie

Gees en tekkies: Joshua se pad na landloop-glorie

-

Joshua Damon van Mamre het onlangs sy gemeenskap met trots verteenwoordig toe hy aan ’n groot landloopwedloop deelgeneem het.

Aan die begin van verlede maand het hy saam met sowat 100 seuns onder 13 die uitdagende 4 km-wedloop in Middelburg, Mpumalanga, aangedurf. Met vasberadenheid en moed het hy in die 33ste plek geëindig – ’n prestasie wat wys dat drome moontlik is wanneer jy met jou hele hart daarvoor werk.“Ek was baie opgewonde, omdat dit ’n nuwe ervaring was en ’n bietjie skrikwekkend, maar ek het baie kinders ontmoet en nuwe dinge geleer,” sê Joshua. Vir hom is dit nie net sport nie; vertel hy verder: “Op die baan voel ek vry. Niemand kan my keer nie, want hardloop is my passie. Ek plaas God eerste elke keer as ek hardloop.” Joshua is ook baie dankbaar vir sy voormalige afrigters, Danzil van Wyk en Lyle Mount, wat hom van die begin af ondersteun en gemotiveer het. Hy is tans deel van Velocity Atletiekklub onder leiding van Mario Philander. “Op die jong ouderdom van 13 lyk hy baie belowend vir sy junior jare (14–17), en as die proses nie gejaag word nie, is ek seker ons sal goeie junior prestasies sien,” sê Philander.

Sy ouers bied ook ’n baie sterk ondersteuningstelsel: “Om vir Joshua op die atletiekveld te sien met soveel passie, maak ons ongelooflik trots. Ons weet sy talent kom van God af, en ons is dankbaar om deel te wees van sy pad. Ouers moet hul kinders ondersteun met liefde en nie toelaat dat omstandighede hulle agterhou nie,” sê hulle. “Ek wil hê jongmense moet glo in hulself en weet dat ons omstandighede nie ons toekoms bepaal nie. Met geloof, harde werk en die regte ondersteuning kan jy enigiets bereik,” glo Joshua.

Related articles

spot_img

Featured