HomeSportMamre Rugbyklub se vroue maak groot naam

Mamre Rugbyklub se vroue maak groot naam

-

In ’n dorp waar sport die gemeenskap bymekaarbring en drome vlerke kry, skryf Mamre Rugbyklub se vrouespan tans hul eie suksesverhaal.

Die span is besig om hoogtes te bereik, met verskeie spelers wat onlangs deur Boland Rugby erken is vir hul uitsonderlike talent. Die jaar het afgeskop met ’n hoogtepunt toe die span op 15 Februarie 2025 in Darling die vroue-afdeling van die Swartland Mayoral Cup gewen het. Hierdie prestasie het beslis die toon aangegee vir die res van hul suksesvolle seisoen. Sherazaan George (20), wat as vaskopstut (nommer 3) speel, en haar jonger suster Tereske George (19), wat op vleuel (nommer 11) speel, is albei gekies vir die Boland o.20-span. Hulle het deelgeneem aan SA Rugby se Women’s Week van 6 tot 10 Oktober in Johannesburg.

Die prestasies stop egter nie daar nie. Twee ander spelers, Demi Gericke (26) en Chanté Jonathan (28), is gekies vir die Boland senior oefenspan, terwyl Tereske ook vir die o.20-oefenspan gekies is. Hulle staan nou ’n kans om deel te wees van die Boland Vroue Kavaliers — ’n merkwaardige mylpaal vir die klub. “Dis ’n reuse prestasie om na slegs twee jaar weer vrouespelers van Mamre Rugbyklub in ’n provinsiale opset te sien,” sê hoofafrigter Kenneth Stadler trots. Gericke sê haar liefde vir die sport en haar droom van kleins af om rugby te speel, bly haar dryfkrag. Jonathan voeg by dat sy hoop om haar passie vir rugby internasionaal te laat groei. Vir die George-susters voel hierdie prestasie soos ’n droom wat waar geword het. Hulle sê hul geheim lê in geloof en gebed, en hulle harte loop oor van dankbaarheid vir die geleentheid.

Stadler sê die span is altyd oop vir nuwe lede. Dit is noodsaaklik vir die span om te groei, en die voortbestaan daarvan is belangrik vir hul sukses. “Enige vrou van 18 jaar en ouer kan aansluit. Ons het dames wat ouer as 45 is,” vertel Shamielah Solomons. Diegene wat deel van die span wil wees, kan haar kontak by 064 821 1859.

Related articles

spot_img

Featured