HomeCommunitySaxonsea leerders blink uit in WOW-kompetisie

Saxonsea leerders blink uit in WOW-kompetisie

-

Atlantis kan met trots spog nadat twee plaaslike leerders van Saxonsea Sekondêre Skool onlangs uitsonderlike prestasies in die Woorde Open Wêrelde (WOW)-spelkompetisie behaal het op nasionale vlak. Venecia Cornelius (graad 10) het die eerste plek in Suid-Afrika behaal as top speller, terwyl Jade Zaal (graad 9) die vierde plek verwerf het in die Engelse Eerste Addisionele Taal-afdeling. En die skool is nie min trots op hierdie prestasies nie. “Ons is dankbaar vir al ons leerders en opvoeders wat betrokke is by die WOW-program. Ons is ongelooflik trots op elke leerder wat ons skool verteenwoordig het. Dit is voorwaar ’n riem onder die hart om te sien hoe hulle nie net groei nie, maar steeds hoër hoogtes bereik,” het `n onderwyser gesê. Hier staan Venecia en Jade, met twee ander deelnemers, Diego Henn en Lyle Veldman.

Op die dag van die finale kompetisie was Venecia oorweldig met blydskap en ongeloof. “Ek het onmiddellik my ouers geskakel om die wonderlike nuus oor te dra,” vertel sy.

Haar ma sê sy is van kleins af mal oor lees en Afrikaans. “Haar belangstelling in taal en spelling het sterker geword met elke WOW-kompetisie waaraan sy deelgeneem het. Haar harde werk en deursettingsvermoë het werklik afbetaal. Ons is baie trots op haar.”
WOW, oftewel Woorde Open Wêrelde, is ’n taalprojek van die Universiteit Stellenbosch wat daarop gemik is om leerders op ’n prettige en leerbare manier aan te moedig om met taal en spel te speel. Die visie van die projek is om leerders en ouers aan te moedig om hul moedertaal, veral Afrikaans, te waardeer en trots daarop te wees.

Plaaslike onderwyser, Yolanda La Meyer is ’n lid van die plaaslike WOW-kernspan wat verantwoordelik is vir registrasies en die suksesvolle reël van die kringkompetisie in Atlantis. “Verskeie voormalige WOW-leerders het reeds aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer nadat hulle deur die projek blootstelling gekry het, en sommige dien nou as deel van die span wat die kompetisies help reël,” vertel sy. Die projek plaas sterk klem op die belangrikheid van moedertaalonderrig as grondslag vir selfvertroue en akademiese groei. Elke deelnemende skool hou eers interne kompetisies, waarna die ses beste leerders per graad – van Graad 1 tot 10, in Engels, isiXhosa en Afrikaans – deurgaan na die kringkompetisie. Die top-presteerders beweeg dan aan na distrik-, provinsiale en uiteindelik nasionale vlak.

Related articles

spot_img

Featured