Die Mamre Ruiterkunsklub het weer op Saterdag 1 November hulle jaarlikse ruiterkuns-kompetisie aangebied.
Die kompetisie, beter bekend as gymkhana, het hierdie jaar niks minder as sewentig perde en ponies, met hul ruiters van Mamre en omliggende gebiede, bymekaar gebring. Die ruiters is in verskillende kategorieë verdeel – onder tien, laerskool, hoërskool, volwassenes en meisies – en het in ’n reeks van ses wedstryde teen mekaar meegeding.
“Die doel van die gymkhana is om elke perdeliefhebber hier te hê. Hier is so min geleenthede in ons dorp, daarom hou ons maar ’n geleentheid waar hulle teen mekaar kan kompeteer,” sê William April, voorsitter van die Mamre Ruiterkunsklub. Die byeenkoms het honderde toeskouers byeengebring om ’n dag te geniet van perde, springkastele, ponieritte, sowel as lekker musiek en kos van plaaslike verkopers. Die fondse sal aan die klub gaan en sal onder meer gebruik word vir klinieke, opleiding en om aan die perde kos te voorsien.
Vir baie van die deelnemers is die geleentheid nie net ’n kompetisie nie, maar ook ’n uitdrukking van kultuur. “Van kleintyd af is ek al ’n perdemens. My pa het perde gehad, my pa se broer, ons hele familie. Hier is so baie perde in Mamre, so dit is maar net in ons,” sê een van die deelnemers, Landon Vigelant, nadat hy eerste plek gewen het vir beste perdehandeling in die volwassenes-kategorie. Vigelant het ook die Beste Ruiter-toekenning gewen. “Vir my is dit ’n groot eer, want ons perde-eienaars kry nie altyd die erkenning vir wat ons insit in ons diere nie. Glo my, baie gaan in om die perde so te laat lyk,” sê Julian Fortuin nadat sy perd, Chrome, ’n toekenning gekry het vir Mooiste Perd.
Agrifarms Projects het ook by die poging aangesluit as die geleentheid se hoofborg. “Ons neem almal aan die hand en omdat ons soveel ondersteuning kry van die perdeman¬ne af, is dit eintlik ’n voorreg om dit te kan doen,” sê Shireen van der Berg, die maatskappy se bestuurder in Darling en Chatsworth. Dit is die eerste jaar dat hulle betrokke is, maar hulle hoop om weer saam met die klub te werk in die toekoms.






