Een van die grootste uitdagings en kopsere vir die gemeenskap van Mamre is tans tienerswangerskappe, asook dwelm- en alkoholmisbruik onder jongmense.
Inwoners het ’n beroep gedoen dat dringende oplossings gevind moet word en dat groter bewusmaking oor hierdie probleme plaasvind. Die Mamre Kliniek het geluister en ’n Welstandsdag beplan om dié kwessies aan te spreek. Verlede maand het die kliniek, in samewerking met Mamre Primêre Skool en ander belanghebbendes, ’n Welstandsdag aangebied. Organisasies soos Kinderwelsyn, Chrysalis Academy, CANSA, Mamre Biblioteek, SAPS, en vele ander was teenwoordig. Leerders is genooi om meer bekend te raak met die organisasies in hul gemeenskap en om bewus te raak van wat beskikbaar is om tienerswangerskappe en dwelmmisbruik te voorkom. Die kliniek hoop om binnekort ’n Jeugwelstandsentrum te open, en moedig inwoners aan om betrokke te raak.






