Vir die twee gemeenskappe is dit egter nie altyd maklik om hierdie herinneringe lewendig te hou en te bewaar nie. “Mamre het ’n ryke geskiedenis as ’n sendingsdorp, maar die sosio-ekonomiese toestand maak dat dit nie altyd behou kan word nie,” sê dominee Christopher Gordon van die plaaslike Morawiese Kerk.
Dit is ’n werklikheid wat inwoners daagliks in die gesig staar. Tog bring die Mamre Biblioteek se mondelinge geskiedenisprojek nuwe hoop.In 2019 het die Mamre Biblioteek projek ’n aangepak om die stories te digitaliseer. Oud-inwoners van Mamre en Pella is gevra: “Wat is jou storie?” Hulle verhale is toe opgeneem. “Dit is nie net ’n storie of ’n fliek nie, dit is my lewe,” sê ’n 70-jarige man wat deel was van die projek. Nizaam Bray, bibliotekaris van die Mamre Biblioteek, sê dat mense ná jare se wag nou die DVD’s kan uitneem soos hulle ’n boek sou leen. Daar is meer as 20 DVD’s beskikbaar wat nie net die ontstaan van Pella en Mamre vertel nie, maar ook die lewensverhale en herinneringe van diegene wat dit daardie tyd beleef het.
“Hulle stories dra die emosies, die ervarings en die waarheid van daardie tyd. As ons dit nou opneem, gaan dit nie verlore nie en kan die volgende geslag dit nog hoor uit die mense se eie monde,” sê Fiona Abrahams, ’n inwoner van Pella. Vir sommige is dit meer as net stories vir die argiewe. Dit is die nalatenskap en die bewaring van ’n geliefde. “Om te weet my ma se storie is opgeneem en dat ander mense dit ook kan hoor, beteken vir my die wêreld,” vertel Celeste Arendse, wie se oorlede ma deel was van die projek. Die digitalisering van geskiedenis is baie belangrik in baie fasette. “Dit is maklik bekombaar vir inwoners en dit is ook toeriste-vriendelik. Mense hoef nie ver te soek vir hierdie stories nie,” voeg Gordon by. Selfs al verval mure en monumente, en selfs al is diegene wat hierdie verhale vertel nie meer onder ons nie, sal die stemme van Mamre en Pella lewendig bly in hierdie kosbare versameling. Dit bly ’n lewende erfenis vir die geslagte wat nog moet kom.






