D anté Davids van Mamre, is besig om sy naam gevestig te kry as een van die groot opkomende rugby-sterre van sy generasie.
Die jong rugbyspeler speel tans vir Paarl Boys High in die nommer 10 en 15 posisies en het onlangs die groot eer gehad om vir Wes-Kaapse Provinsie te speel tydens die onder-16 Grant Khomo-week, wat `n paar weke gelede in Pretoria plaasgevind het. Sy voormalige onder-13 afrigter, Rouxan Vermeulen, onthou hom as ’n spesiale speler met unieke kalmte en insig op die veld. “Hy was altyd ’n stappie voor in hoe hy dink en speel. Wat my die meeste opgeval het, was dat hy nederig gebly het, maak nie saak watter prestasies hy behaal het nie. Ek glo sy toewyding en dissipline sal hom nog baie ver neem,” sê Vermeulen. Vir Danté is rugby meer as net ’n sport. Dit is sy manier om homself uit te druk en ’n passie wat hom van kleins af aangevuur het. Hy vertel dat hy glo sy sukses is moontlik deur God se genade, sy onwrikbare werksetiek en die ondersteuning van sy ouers. Selfs ná uitdagings, soos ’n knie-besering wat hom amper van die veld af gehou het, het sy geloof en vasberadenheid hom weer laat terugkeer.
Sy ouers is uiters trots op hom en sien sy dissipline, nederigheid en dryfkrag as ’n voorbeeld vir ander jongmense. Vir die gemeenskap van Mamre, waar die gees van rugby deur die strate vloei, is hierdie jongman beslis `n voorbeeld van hoe passie enige persoon groot hoogtes kan help bereik.






